Metodes van die navorsingsprojek
Om die doelwitte van die projek te bereik is 'n kombinasie van metodes nodig.
- Literatuur-oorsig: Doen 'n literatuur-oorsig van navorsing wat wêreldwyd gedoen is om oplossings vir mens-roofdier konflik te vind (2013).
- Stel-kameras: Gebruik stel-kameras (kamera "strikke") om individuele luiperds en jagluiperds te identifiseer en te tel. Hierdie data kan met vorige jare se data vergelyk word om te sien of daar 'n werklike verandering in getalle was. Die kameras kan ook gebruik word om plekke te identifiseer waar baie roofdiere voorkom vir verdere studie en watter wild (prooi-spesies) vir hulle beskikbaar is om te jag (2014).
- CyberTracker: Gebruik spesiaal opgeleide spoorsnyers ("eko-spoorsnyers") met CyberTracker GPS toestelle om data te versamel oor die roofdier-spesies se loopgebiede, jag-pogings, sosiale gedrag en interaksie met ander spesies. Spoorsnyers sal ook enige mis optel wat daarna ontleed kan word vir DNA en hare om individue en prooi-spesies te identifiseer (2014).
- GPS halsbande: As daar genoeg fondse gevind kan word en die spoorsny-data onvoldoende is, sal roofdiere gevang word met 'n kombinasie van hokke (vir jagluiperd, rooikat en moontlik luiperd), voetstrikke (vir luiperd) en rubber slagysters ("soft traps") vir rooijakkalse, en weer vrygelaat word met gemodifiseerde GPS halsbande wat uurlikse GPS punte lees (sien GPS spesifikasie hier). Hierdie metode sal veral inligting kan verskaf oor hoe (en of) die roofdiere mekaar vermy in terme van tyd, asook verskille in jag en prooi-voorkeure van elke roofdierspesie (2014-2015).
- Vraelys: Data oor huidige konflik tussen boere en roofdiere, kostes en effektiwiteit van metodes wat boere gebruik en die verspreiding van die verskillende roofdierspesies sal uit twee vraelyste verkry word (2013).
- Data-analise: Omdat die meeste data GPS inligting bevat, sal die analise grootliks bestaan uit kaarte en GIS modelle. Statistiese analises sal hoofsaaklik m.b.v. "resampling" metodes gedoen word. 'n Koste-voordeel analise sal gedoen word op die verskillende metodes wat boere gebruik om hulle vee te beskerm. Hierdie data sal saamgevoeg kan word in 'n finale model (2015).
- Die finale model sal gebruik word om 'n rekenaar-program te skryf wat deur boere gebruik kan word om die beste metode vir elke plaas se eie omstandighede te bepaal (2019).
Terugvoer Junie 2018: Weens verskeie omstandighede buite ons beheer, hoofsaaklik 'n gebrek aan fondse, kon ons nie
enige GPS halsbande gebruik nie en het die projek agtergeraak met die beplanning. Ons is tans in die proses om die resultate in 'n tesis op skryf.
Benodighede (Hoe kan jy help?)