Boere met roofdiere - Mens-roofdier konflik in Namibië


Waarom hierdie navorsingsprojek?

In 'n 2011 opname onder veeboere deur die RPO in die Noord-Kaap is 'n direkte jaarlikse verlies van R540 847 496.00 weens roofdiere beraam (RPO 2011). Dit blyk dus dat die huidige metodes wat boere teen roofdier-verliese gebruik, nie effektief of volhoubaar is nie. Die belangrike ekonomiese rol van veeboerdery, te midde van wydverspreide armoede en werkloosheid in plattelandse gebiede, maak dit dwingend dat alternatiewe oplossings vir veeboere gegee moet word as ons volhoubare ekostelsels vir toekomstige geslagte wil verseker.

'n Veeplaas vorm deel van 'n hele eko-stelsel, veral in 'n land soos Namibië waar ons boere grootliks afhanklik is van natuurlike weiveld vir ons diere. Roofdiere is 'n belangrike deel van enige ekostelsel en help om die balans van die natuur te bewaar deur oorbeweiding en ander probleme te voorkom. Daar is bv. aanduidings dat die verwydering van luiperds uit die ekostelsel daartoe gelei het dat veral rooikatte en jakkalse geweldig toegeneem het; albei spesies word deur luiperds doodgemaak. Estes en ander het in 'n 2011 artikel gewys dat die meeste natuurlike ekostelsels van bo af deur roofdiere beheer word en dat die hele eko-stelsel kan ineenstort met baie ander spesies wat uitsterf as top-roofdiere verwyder word. So 'n ekostelsel kan gevolglik ook nie volhoubaar ekostelsel-dienste (soos goeie weiveld) lewer nie (sonder om die wyer verlies in spesie-rykheid in ag te neem).

In Namibië kom 90% van ons jagluiperds op plase, buite bewaringsgebiede, voor. Boonop is Namibië een van die laaste lande in die wêreld waar jagluiperds nog voorkom en is dit die land met die grootste oorlewende jagluiperdbevolking. Aangesien jagluiperds nie goed oorleef saam met groter roofdiere soos leeus en gevlekte hiënas in omheinde gebiede soos natuurreservate nie, is die wêreldwye oorlewing van jagluiperds tot 'n groot mate in die hande van Namibiese boere. Dit is dus nog 'n rede waarom dit dringend noodsaaklik is dat praktiese oplossings vir die huidige konflik tussen boere en roofdiere gevind word. Hierdie navorsingsprojek wil nuwe oplossings vind, sowel as om vas te stel watter huidige metodes die beste werk, sodat veeboere winsgewend saam met roofdiere kan boer, eerder as om heeltyd teen die natuur te baklei.

Vir boere...

[1]Estes, J., Terborgh, J., Brashares, J., Power, M., Berger, J., Bond, W., Carpenter, S., T.E., E., Holt, R., Jackson, J., Marquis, R., Oksanen, L., Oksanen, T., Paine, R., Pikitch, E., Ripple, W., Sandin, S., Scheffer, M., Schoener, T., Shurin, J., Sinclair, A., Soulī, M., Virtanen, R., and Wardle, D. (2011). Trophic downgrading of planet earth. Science, 333(6040):301-306.

  • Chavoux Luyt
  • Sel: +264(0)813124789
  • Faks: 0864410093
  • E-pos: chavoux [by] gmail [punt] com
  • Posadres:
    Posbus 1755
    Otjiwarongo
    9000
    Namibië

Namibiese luiperd