Vir boere
Die navorsingsresultate is reeds in die proses om opgeskryf te word, so die vraelyste is nie langer van nuttig vir hierdie navorsingsprojek nie. As u egter belang sou stel in voortgesette navorsing oor die roofdiere, kan u my gerus kontak (verkieslik per e-pos).
Die oplossing vir roofdier-veeboer konflik lê nie by bewaringsorganisasies nie, alhoewel hulle 'n rol kan speel. In die finale instansie is dit boere wat self die sukses al dan nie van enige strategie sal bepaal. Die "beste" oplossings sal deur elke boer se unieke omstandighede bepaal word. Om hierdie rede is dit noodsaaklik om die huidige stand van sake met betrekking tot roofdiere van soveel Namibiese boere as moontlik te verkry. Een van die belangrikste aspekte van hierdie navorsingsprojek is om inligting te kry van metodes wat tans prakties deur boere gebruik word, sowel as die kostes van die metodes en hoe effektief hulle werklik is om veeverliese te voorkom.
Ek het dus in Mei 2014 se AgriForum 'n vraelys laat plaas wat u ook hier kan kry. Hoe meer boere die vraelys voltooi, hoe bruikbaarder sal die resultate wees. Tot dusver is slegs 53 antwoorde ontvang en daarom is die NLU genader oor die probleem. Die resultaat was dat ek 2 CyberTracker applikasies geskryf het wat op enige Windows Mobile of Android slimfoon kan loop. Die een applikasie (RoofdierBestuur.MDB) is hoofsaaklik gemik op roofdiere en roofdier bestuur en kan hier (RoofdierBestuur.MDB) afgelaai word. Die ander applikasie (Boerdery.MDB) is meer uitgebreid en sluit die algemene en finansiële bestuur van die boerdery in (bv. maandelikse uitgawes, bemarking, veegetalle ens.). Dit het egter geen metode om waarnemings van spore of roofdiere wat gesien is, te stoor nie. Dit kan hier (Boerdery_v1.0.mdb) afgelaai word. Die applikasie werk bietjie anders as die tipiese selfoon "app" omdat die data na 'n rekenaar afgelaai word vir die boer se gebruik. Daarom moet CyberTracker eers hier afgelaai word en op 'n (Windows) rekenaar geïnstalleer word. Dan word dit gebuik om die afgelaaide applikasie van u keuse oop te maak en na die slimfoon op te laai. Vir verdere hulp met die proses, kyk gerus hier.
'n Ander manier om betrokke te raak is om my na u boere-vereniging of boeredag te nooi. Afhangende van u behoeftes kan ek oor verskillende onderwerpe gesels en self ook meer leer oor boere se omstandighede.
- Ek kan die geleentheid kry om eerstehands van boere te leer oor hulle roofdiere en watter metodes hulle gebruik.
- Alhoewel ek nog nie defnitiewe antwoorde het in terme van die effektiwiteit en kostes van al die onderskeie metodes nie, kan ek wel die basiese voor- en nadele uitlig.
- Ek kan opleiding gee oor hoe om die skuldige roofdier te identifiseer as die oorskot van 'n prooidier gevind is. Dit is ooglopend een van die belangrikse faktore om werkbare oplossings te vind, dat die werklike skuldige aan die kaak gestel word.
- Ek kan opleiding gee hoe om CyberTracker op u slimfoon te gebruik om roofdiere, roofdier-verliese, roofdier bestuur-kostes en algemene plaasbestuur te stoor. Die data van hierdie app sal help om swart en wit syfers op plaaslike boere-verenigingsvlak en vir die NLU te kry van die kostes en moontlike oplossings vir roofdier-probleme.
Vir daardie boere wat regtig baie belang stel in hierdie navorsing en graag 'n groter rol wil speel om antwoorde vir die roofdier-probleme te kry, is daar ook 'n maandelikse Excel data-spreiblad. As u goed boekhou van u "roofdier"-uitgawes en verliese en bereid is om hierdie inligting op 'n maandelikse basis te deel (die data sal steeds vertroulik hanteer word), kan u ook hierdie dokument en die ooreenkoms aflaai of my kontak. Hierdie selfde inligting kan nou ook d.m.v. die CyberTracker applikasie versamel word.
As u boerevereniging of as individu op enige manier finansieel kan en wil bydrae, kyk gerus na wat die behoeftes van die projek is en waarmee u graag wil help. CyberTracker installering