Agtergrond
Konflik tussen mense en roofdiere (sowel as ander wilde diere) is 'n wêrelwye en steeds toenemende probleem (Messmer, 2000). Dit word aan 'n verskeidenheid oorsake toegeskryf soos groter menslike bevolking, habitat indringing, plase wat verlate is, meer bewaringsgebiede, veranderende boerderymetodes. Op die ou einde is dit boere wat die koste van hierdie konflik moet dra. In Namibië is die vernaamste roofdiere van vee rooijakkalse (Canis mesomelas), rooikatte (Felis caracal), luiperds (Panthera pardus) en jagluiperds (Acinonyx jubatus). Ander roofdiere kan wel ook soms groot skade aanrig, maar is gewoonlik nie permanent op plase nie. Soms maak boer ook ander diere dood soos insekvreters (bakoorjakkalse en aardwolwe) wat eintlik geen skade aanrig nie.
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
Rooijakkalse is veral vir kleinveeboere 'n probleem as hulle lammers vang. | Rooikatte kan slegs kleinvee vang, maar maak soms meer as een dier dood op een slag. | Jagluiperds kan jong kalwers of volwasse kleinvee vang. | Luiperds kan groter kalwers ook vang sowel as volwasse kleinvee en maak soos alle katte soms meer diere dood as wat dit vreet. |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
Leeus wat uit bewaringsgebied ontsnap, kan volwasse beeste vang | Wildehonde bly selde lank in een gebied, maar kan dan groot skade aanrig | Gevlekte Hiënas ontsnap soms uit Etosha en verskeur volwasse beeste | Bruin Hiënas is meer aasdier as roofdier, maar kan soms klein of slapende diere vang |
Die metodes wat boere kan gebruik word gewoonlik verdeel in dodelike metodes (roofdiere word doodgemaak in die proses) en nie-dodelike metodes. Daar is egter probleme met hierdie klassifikasie deurdat somminge "nie-dodelike" metodes wel tot die dood van roofdiere kan lei en 'n groter negatiewe invloed op die ekostelsel kan hê as om eenvoudig die een skuldige roofdier dood te maak. 'n Verskeidenheid oplossings vir mens-roofdier konflik is al voorgestel (Nyhus et al., 2003; Linnell et al., 1996; Shivik, 2004; Daly et al., 2006; Shivik, 2006), insluitend pro-aktiewe metodes wat probeer om die konflik te voorkom, kompenserende metodes wat die kostes van lewe saam met wilde diere probeer dek deur die waarde van wilde diere te verhoog (bv. die gereguleerde jag van luiperds in Uganda of die eiendomsreg op wild op Namibiese plase, toerisme ens.) en reaktiewe metodes waar kompensering vir skade of verwydering van "probleem-diere" eers na die tyd plaasvind. Die metodes kan wissel in koste en effektiwiteit met die uiterstes van
- doen niks nie: Koste = 0, maar kan tot sulke groot verliese lei dat die boer meer verloor as wat sy inkomste is ... tot ...
- hou die vee permanent in 'n skuur of voerkraal: 100% effektiwiteit teen roofdierverliese, maar so duur dat die boer meer betaal as wat sy inkomste is.