Doelwitte van die projek
Die uiteindelike doel van die navorsing is om 'n rekenaar-program (DSS - Decision Support System) te skryf wat boere en ander grond-eienaars kan help om in elkeen se unieke omstandighede die "beste" metode te bepaal om hulle vee teen roofdiere te beskerm. Die koste en effektiwiteit van elke metode gaan ondersoek word, sowel as die voor- en nadele van elke metode vir die kort- en die langtermyn. As ons die ekologie, dieet-voorkeure en beweging van die roofdiere wat (soms) vee vang, beter verstaan, kan ons ook ons vee beter beskerm en die langtermyn volhoubaarheid van ons boerdery verseker. Beide luiperds en jagluiperds se langtermyn voortbestaan is waarskynlik in die hande van boere. Die roofdiere waarop hierdie projek gaan konsentreer, is die luiperd (Panthera pardus), jagluiperd (Acinonyx jubatus), rookat (Felis caracal) en rooijakkals (Canis mesomelas) wat in die verlede deur boere as die grootste probleemdiere geïdentifiseer is. Om hierdie doel te bereik, is daar 'n paar doelwitte:
- Evalueer die verskillende metodes wat wêreldwyd teen roofdiere gebruik word, en vergelyk die voordele en nadele van elke metode.
- Stel vas wat die koste en effektiwiteit is van die huidige metodes wat deur boere teen roofdiere in Namibië gebruik word.
- Stel vas watter tipe habitat deur die verskillende roofdiere verkies word (en wat deur kwesbare vee vermy moet word).
- Stel vas hoe en waarom roofdiere hulle habitat gebruik (bv. waar hulle verkies om te jag of kleintjies te kry).
- Stel vas watter prooi-spesies deur elke tipe roofdier verkies word (verkies hulle vee of eerder wild?).
- Stel vas of individuele diere van dieselfde spesie verskil in watter prooi hulle verkies (is daar sommiges wat vee verkies?).
- Stel vas in hoe mate die verskillende roofdier-spesies mekaar vermy en hoe hierdie gedrag gebruik kan word om vee veiliger te hou.
- Stel vas in hoe mate die roofdiere in Noordelike Namibië territoriaal is en moontlik ander individue van dieselfde spesie weghou uit 'n spesifieke gebied (en die moontlike implikasies vir boere en bewaring).
Metodes